AVBOB | Lewensleer

BYLAAG 6 HULP AAN JOUSELF EN ANDERE TEN TYE VAN ROU EN VERLIES Die verlies van ’n geliefde is een van die lewe se grootste uitdagings. Wanneer ons iemand aan die dood moet afstaan, of wanneer ’n verhouding beëindig word, beleef ons intense en angswekkende emosies wat skok, droefheid, woede, ’n verlies aan sekuriteit, ontkenning, depressie en verskeie ander gevoelens insluit. Dis algemeen om oorweldig te voel weens verlies. Om jou eie pyn te verlig of om die regte woorde te vind om iemand anders te troos of ’n bedroefde persoon te ondersteun is moeilik. Moenie dat jou eie gevoel van ongemak jou verhoed om na ’n bedroefde persoon uit te reik nie.Terwyl jy nie die ander persoon se gevoel van verlies kan wegneem nie, kan jy steeds noodsaaklike ondersteuning en troos vir so iemand bied. Jy weet dalk nie wat om te sê of doen nie, maar jy hoef nie antwoorde of advies te gee nie – die belangrikste is dat jy daar moet wees vir die persoon wat rou. Dis belangrik om die volgende oor verlies en droefheid te weet:  Die verlies van ’n geliefde is ’n skok wat ’n fisieke reaksie tot gevolg kan hê (aamborstigheid, ’n gebrek aan energie, ’n droë mond, hoofpyn en ander simptome). Daarbenewens is emosionele trauma (hartseer, angs, eensaamheid, woede, skuld en ander emosies), gedragsveranderinge (slaap- en eetversteurings, sosiale onttrekking en hartseer) en geheueverlies nie ongewoon nie (Botes, 2011).  Volgens Kübler-Ross (1969) beleef die meeste mense die volgende fases van verlies: ontkenning, woede, depressie en, laastens, aanvaarding.  Verdriet is ’n normale en natuurlike reaksie wat as gevolg van verlies kan voorkom. Elke mens het ’n natuurlike vermoë om te kan herstel en die proses kan ’n jaar of selfs langer neem. Naasbestaandes moet so iemand die geleentheid gee om te herstel. Dis belangrik om daar te wees vir die bedroefde persoon, aangesien jou ondersteuning en teenwoordigheid tot die ander persoon se heling kan bydra. Volg hierdie riglyne:  Laat die persoon toe om sy/haar storie te vertel. Luister met aandag en medelye. Dit is nodig dat die bedroefde persoon voel dat sy/haar verlies erken word en dat sy/haar geliefde nie vergeet sal word nie. Laat die persoon toe om sy/haar storie oor en oor te vertel, om sy/haar gevoelens te wys en deur die pyn te werk. Deur sy/haar storie oor te vertel, sal sy/haar pyn verlig word.  Erken en aanvaar die situasie en gevoelens. “Ek hoor dat (jou) .... oorlede is.” Laat die bedroefde weet dat dit in orde is om voor jou te huil, kwaad te word of sy/haar gevoelens te wys. Bedroefde mense moet weet dat hulle hul gevoelens kan wys sonder om geoordeel te word, ’n argument uit te lok of aan kritiek blootgestel te word. lndien nodig, besin oor wat jy gehoor het en erken die intensiteit van die gevoelens. Jy kan ook jou bekommernis uitspreek: “Ek is jammer om te hoor wat met jou gebeur het!” Wees opreg in jou kommunikasie. Maak seker die persoon weet dat jy omgee. “Ek wil hê jy moet weet dat ek omgee!”  Wees bereid om in stilte te sit. Jy kan jou omgee en ondersteuning deur jou stille teenwoordigheid toon. As jy nie aan iets kan dink om te sê nie, is oogkontak of ’n ondersteunende drukkie genoeg.  Volgens Botes (2011) kan genesing plaasvind binne ’n warm en deernisvolle verhouding. Onthou, jy vertroos die persoon deur jou teenwoordigheid en deur die persoon te wys dat daar na haar/hom geluister word.  Verwys ’n persoon vir berading, indien nodig. Opmerkings om te vermy wanneer ’n bedroefde vertroos word:  Stellings wat begin met: “Jy moet ... jy sal ...” is te direk. Moenie oordeel of evalueer nie. Jy kan eerder sê: “Het jy al daaraan gedink om ...”  “Dis nou agter jou!” “Dis tyd om aan te gaan met jou lewe!” Elke persoon beweeg aan in sy/haar eie tyd en mag voel dat dit beteken dat hulle hul geliefde “vergeet”.

RkJQdWJsaXNoZXIy MTA0MzI=